2009/12/01

Pieter Plaasmuis en Stefan Stadsmuis deur Beatrix Potter

Pieter Plaasmuis beland per ongeluk in ‘n deftige huis in die stad waar hy gou vriende maak met Stefan Stadsmuis. Daar is elegante en formele etes, allerhande smullekker kosse om van te droom, gerieflike slaapplek… maar daar is ook ‘n kat wat muise jaag, ‘n kok wat nie van muise hou nie, ‘n vreeslike gerumoer die hele dag lank...

Sal Pieter Plaasmuis in die stad kan aanpas, of sal hy teruggaan plaas toe?

Jy kan meer oor hierdie boek te siene kry by die CruGuru webwerf. Dit is beskikbaar in sagteband-formaat by Lulu.com en in PDF E-boek-formaat by Lulu.com. ISBN: 978-1-920414-06-1; 978-1-920414-08-5.

2009/11/24

Loeloeraai deur C. J. Langenhoven

Loeloeraai, wat oorspronklik in 1923 uitgegee is, is heel moontlik die eerste Afrikaanse verhaal in die wetenskapsfiksie-genre.

Die meeste van die kleurvolle karakters in die boek is ou bekendes uit Langenhoven se ander verhale, soos Kerneels, Vroutjie, Engela, oom Stoffel, Watwo en Herrie, Kerneels se mak olifant. Dan is daar Loeloeraai, 'n onverwagse besoeker van Venus wat een aand met sy ruimtetuig op Kerneels se werf land. Eers is Kerneels-hulle baie agterdogtig oor die wyse vreemdeling vanuit die buitenste ruim, maar gaandeweg leer hulle dat hy in vrede gekom het. Die gereg wil hom egter in die tronk stop omdat hy die land onwettig binnegekom het...

Buiten Langenhoven se humor wat die verhaal kenmerk, kan ons sien watter kennis van die wetenskap en die buitenste ruim reeds in daardie tyd bestaan het. Loeloeraai se besoek is om die aarde te bestudeer en ook leer hy die mensheid meer van homself en hoe gierigheid, selfsug en wreedheid die mens se vooruitgang belemmer.

Jy kan meer oor hierdie boek te siene kry by die CruGuru webwerf. Dit is beskikbaar in sagteband-formaat by Lulu.com en in PDF E-boek-formaat by Lulu.com. ISBN: 978-1-920414-03-0; 978-1-920414-05-4.

2009/11/10

Gebed vir Nog 'n Nuwe Dag deur J. H. Jowett

'n Gebed vir Elke Dag van die Jaar

Gebed vir Nog ‘n Nuwe Dag bevat 'n kort gebed vir elke dag van die jaar om jou gebedslewe te lei en te vervul. Hierdie gebede dring reguit deur na jou hart se diepste kamers en open jou oë vir die allesomvattende liefde van Jesus Christus deur jou te leer om te luister en stil te wees in die Here.

Die skrywer, Ds. John Henry Jowett, M.A., sê die volgende in sy voorwoord: Ons het 'n behoefte aan 'n vaster en kalmer versekering terwyl ons bid. Selfs in ons smekinge is dit nodig om te "rus in die Here." Miskien sou dit 'n goeie ding vir baie van ons wees as ons in ons gebede minder wil sê en meer wil luister. "Ek wil hoor wat God die Here wil sê." Om te luister sal rus bring, waar om te praat net die temperament mag laat opvlam.

Is dit nie wonderlik nie om te besef dat daardie pragtige frase, "Rus in die Here," slegs dit beteken: "Wees stil in die Here."

Jy kan meer oor hierdie boek te siene kry by die CruGuru webwerf. Dit is beskikbaar in sagteband-formaat by Lulu.com en in PDF E-boek-formaat by Lulu.com. ISBN: 978-1-920265-92-2; 978-1-920265-94-6.

2009/11/01

Alle Grappies op 'n Stokkie deur Martyn Demas

301 Skoon Lekkerlag Grappe vir Jou Plesier

Het dit al met jou gebeur dat jy so baie uitstekende grappies hoor, maar dit amper onmiddelik weer vergeet? Moenie bekommerd raak nie, dit gebeur met die meeste van ons, ook met Martyn Demas. Hy het egter besluit om al die kostelike grappies wat hy hoor, neer te skryf so gou hy kan – en hier is die resultaat: 301 lekkerlag, skoon grappe wat hy met jou wil deel.

Jy kan meer oor hierdie boek te siene kry by die CruGuru webwerf. Dit is beskikbaar in sagteband-formaat by Lulu.com en in PDF E-boek-formaat by Lulu.com. ISBN: 978-1-920265-89-2; 978-1-920265-91-5.

2009/10/18

Somer deur C. M. Van Den Heever

Eerste liefde, jaloesie, hebsug en die mens se stryd teen die elemente om sy voortbestaan, word in hierdie novelle van C.M. van den Heever tot 'n spannende klimaks gedryf.

Dit is hoogsomer en tyd om die koring te oes op Oom Tom se plaas voor die hael dit afslaan. Die plaas het eers aan sy voorsate behoort, maar nou besit hy ‘n deel, sy broer Frans ‘n deel en 'n buitestaander, Faan, ‘n ander deel. Faan het die stuk grond gekoop van Tom se ander broer wat uitgeboer het.

Faan se seun, Hannes, het 'n ogie op Tom se pragtige sewentienjariger dogter, Linda. Maar toe kom die swerwer-koringsnyer, Wynand, op die plaas aan en Tom huur hom summier om met die koring-oes te help. Linda raak verlief op hierdie stil, hardwerkende swerwer met die onbekende verlede en dit dryf Hannes tot raserny.

Intussen probeer Tom sy broer, Frans, uit 'n finansiële verknorsing help, terwyl Faan sy oog op Frans se grond het, indien Frans nie sy skuld kan delg nie...

Jy kan meer oor hierdie boek te siene kry by die CruGuru webwerf. Dit is beskikbaar in sagteband-formaat by Lulu.com en in PDF E-boek-formaat by Lulu.com. ISBN: 978-1-920265-85-4; 978-1-920265-87-8.